|
Simond het ‘n trotse skooltradisie wat reeds in 1852 begin. Het Sticht ontstaan in 1852 om opvoeding en onderwys in die Groot Drakenstein-gebied te bevorder en begin hierdie laerskool se voorganger. In die verskillende gedaantes bly die laerskool vir 147 jaar voortbestaan. ‘n Nuwe bedeling vir onderwys, laat Het Sticht die besluit neem om ‘n privaatskool te stig wat vanaf 14 Januarie 1997 as Simond funksioneer.
Missie Die skool verbind hom tot gehalte-onderrig waardeur hy sy leerders deur individuele onderrig lei tot volwaardige burgers wat hul plek met kundigheid en selfvertroue in die toekomstige samelewing sal volstaan.
Doelstellings Ons skool stel hom ten doel om: • gehalte onderrig te lewer. • Christelike beginsels na te streef. • klasgetalle laag te hou. • ‘n moderne tegnologiese inslag te verseker. • sy leerders akademies, kultureel en fisiek voor te berei vir die lewe.
Toelatingsvereistes Voornemende leerders moet: • Afrikaans of Engels magtig wees en binne die verwagte ouderdom in sy/haar graad val. • bereid wees om ‘n toelatingstoets af te lê en berus by die uitslag. Voornemende ouers moet: • toestem tot die afneem van ‘n toelatingstoets en hul berus by die uitslag. • nodige vorms en vrywaringsvorms onderteken en inskrywingsgeld betaal. • onderneem om skoolgelde te betaal en ander finansiële verpligtinge na te kom. • hul vereenselwig met die missie, etos, heersende skoolreëls en gedissiplineerde, akademiese en Christelike kultuur van die skool.
Toelatingskeuring geskied binne sewe dae.
Etos Die skool se gedragskode word weerspieël in ‘n uitlewing van die fiolosofie van respek vir die self, medemens, natuur en God. Die gedragskode fasiliteer kreatiewe denke, oorspronklikheid en persoonlikheidsontwikkeling binne ‘n akademiese atmosfeer waar veral klem gelê word op Afrikaans en Engels as tale, rekenaargesteunde onderwys en Wiskunde en Wetenskap as die basiese vakke.
Sport en Kultuur Deelname aan al die bekende seisoengebonde sportsoorte word aangemoedig, tewyl individuele aktiwiteite soos ballet, karate en kulturele aktiwiteite ook gereël word. Leerders neem deel aan Eisteddfod, koor, konserte, revues en olimpiades. Klavier- en kitaarlesse word ook aangebied.
Akademie Die skool plaas, naas persoonlikheidsontwikkeling en individuele vaardighede, grootliks klem op die akademie. Die ideaal word geredelik bereik, o.a. omdat klasse nooit meer as twintig leerders in grade O en R en 15 in grade 1-7 het nie.
Inskrywings Inskrywings word dwarsdeur die jaar gedoen. Aansoekvorms is by die skool of op die webtuiste beskikbaar: www.simond.co.za Skooldrag: • Dogters: Somer - Navy romp, wit hemp met embleem, wit sokkies en swart skoolskoene. 'n Navy trui is aanvaarbaar op koel dae. In die winter dra hul 'n navy sweetpakbroek, wit gholfhemp met embleem, fleece top, wit sokkies en tekkies. • Seuns: Wit hemp met embleem, navy broek, grys sokkies en swart skoonskoene. Dieselfde drag as dogters word in die winter gedra. • Sport – sien aanhegte stuk by inskryfvorms.
Onderrigmedium Afrikaans is ons voertaal, maar ons beskou Engels as gelyke taal en het ook dubbelmedium klasse.
Engelssprekende leerders woon ons skool by in dubbelmediumklasse en ‘n hoë standaard van Engels word gehandhaaf, selfs al is dit die tweede taal.
Skooltye Skoolkwartale loop naastenby parallel met dié van openbare skole, maar word elke jaar aangepas.
Skoolure:
Graad 0 : 08:00 - 12:30
Graad R : 08:00 - 12:45
Graad 1-2 : 08:00 - 12:45
Graad 3 : 08:00 - 14:00 (Maandag, Woensdag, Donderdag) ; 08:00 - 13:00 (Dinsdag, Vrydag)
Graad 4-7 : 08:00 - 14:00 (Maandag - Donderdag) ; 08:00 - 13:00 (Vrydag)
Skoolgelde • ‘n Aanvanklike nie-terugbetaalde bedrag word eenmalig by inskrywing betaal. • Die inskrywings- sowel as maandelikse gelde word jaarliks vasgestel.
Kurrikulum Die skool bied die volgende kernvakke aan:
• Graad 1-7: Afrikaans, Engels, Wiskunde, Natuurwetenskap, Rekenaarvaardighede en Lewensoriëntering. • Ander vakke sluit in: Geskiedenis, Aardrykskunde ,Ekonomiese Besuurswetenskappe en Tegnologie. • Alle leerders kry ook blootstelling aan liggaamlike opvoeding, kuns, voordrag en musiekwaardering.
Elke dag word met gewyde tyd begin.
Algemene inligting • Skooldrag is by De Jagers Uitrusters in Hoofstraat, Paarl verkrygbaar. • Uitstappies en toere vorm ‘n integrale deel van die kurrikulum. • Rekenaars: Twee keer per week word formele klasse aangebied, terwyl rekenaargebruik die daaglikse akademiese werk aanvul. ‘n Rekenaarklub word ook bedryf. • Lidmaatskap: Die skool is geregistreer as ‘n onafhanklike skool en is lid van die Independent Schools Association of South Africa (ISASA).
|